HESSEQUA NUUS - Dié streek beskik oor 'n ryk erfenis en wêreldbekende landmerke, moet dit dus nie misloop wanneer jy hier besoek aflê nie! Hier is 'n paar:
Albertinia
Tuinplaas en Albertinia museums, asook die Fluisterboom (ficus burkei of wildevy) op Voëlroepersfontein.
Heidelberg
De Doornkraal-opstal of Fourie-huis, soos dit ook bekendstaan.
Riversdal
• Julius Gordon Africana Centre, Riversdal - ook bekend as die Versveldhuis. Die gebou dateer terug tot 1880 en beskik oor Suid-Afrika se grootse versameling van Thomas Bowler stukke. Hoewel hy 'n Britse kunstenaar was, het hy in Kaap de Goeie Hoop gebly.
• Makadas stoomlokomotief - Hierdie lokomotief sal jou nie verder kan neem as waar dit op die oomblik staan nie, maar dis beslis 'n besoekie werd om van naderby te bekyk. Die Makadas-lokomotief het op Riversdal-plein sy laaste rusplek gekry, ten spyte daarvan dat dit oorspronklik op die Touwsrivier/Ladismith sylyn gebruik is en daarom eerder op Ladismith hoort. Dit was egter 'n gereelde besoeker by Riversdal-stasie vir ongeveer 30 jaar. Dit is in 1892 as nr. 703 deur die Cape Government Railways (CGR) in diens geneem op die CGR se oostelike spoorweg-stelsel by Oos-Londen en het na Unie-wording in 1910 die SAS nr. 970 ontvang. Meer as 40 km aaneenlopende treinspoor het tydens die verskriklike Laingsburg-vloed in 1981 weggespoel en dus was daar geen manier om dit na Ladismith te neem nie. Riversdal was blykbaar die naaste dorp wat per spoor bereik kon word.
Stilbaai
• Palinggat Museum - wêreldwyd bekend, veral as gevolg van die palings in die fontein wat daagliks gevoer word en waar besoekers geleentheid kry om dit self te doen. (Besoek ons webtuiste by www.suidkaapforum.com vir 'n videogreep).
• Noorkapperpunt se rooisand-visvywers - een van die min bestaande, werkende kliptegnologie in Suid-Afrika. Die vywers is perfekte halfmane in die water, wat met die hulp van die maan en getye reeds meer as 100 jaar gesorg het vir vislekkernye uit die oseaan se kosmandjie. Vandag word dit nie meer gewerk nie, maar is wel 'n gedenkwaardigheid, asook die bes bewaarde visvywers in die land.
Witsand
Barry Memorial Church - Vandag 'n nasionale monument, gebou deur die Barry-familie in 1859 en word steeds gebruik vir dienste en troues.
Malgas Pont - 'n Handgedrewe vlot en is die laaste van sy soort in die land. Die vlot kan met gemak drie voertuie op 'n keer oor die Breederivier neem.
Die Doornkraal-opstal, ook bekend as Fourie-huis op Heidelberg is 'n nasionale gedenkwaardigheid.
Die Barry Memorial Church op Witsand is 'n nasionale monument.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'